Jaco du Plessis

Nederland 2017 - Deel 1

nederland reis

Kort na my terugkoms het ek begin skryf. Ek het 'n hele paar honderd woorde gehad en die hele ding in hoofstukke beplan. Maar ek het net twee dae daaraan gewerk en toe nie weer nie. Dit het al talle male met my gebeur: ek het iets om te skryf, ek begin, maar hou op lank voor die einde. Dit pla my, en ek kan dink aan 'n hele paar filosofiese redes waarom dit gebeur, maar dit verander niks aan die feit dat stories wat ek wil vertel, vars uit my geheue, gaan verlore. So ek wil eerder dink aan 'n oplossing.

Die voor die hand liggende opsie is om bloot te dele te publiseer gedurende die skryfproses. Sodoende kan belangstellendes lees en as motiveerders dien om aan te hou. En selfs as ek dan steeds vroegtydig ophou, dan is daar darem iets. Iets is somtyds beter as niks.

So laat ek dan nou, sonder 'n verlammende verpligting oor waar dit eindig, vir julle vertel van my reis na Nederland in Mei 2017.

Ek wou graag 'n Europese land besoek. Dit sou dien as 'n vakansie, maar ook as eerstehandse ervaring dien oor die leefstyl in die Eerste Wêreld. Soos baie ander in hierdie land het ek al gewonder of dit nie wys sou wees om my heil daar oorkant te loop soek nie.

Dan is daar natuurlik my nuuskierigheid oor die nasie wat die titel van "my herkoms" dra.

Twee van my vriende woon tans in Amsterdam. Een is Marike, wat saam met my studeer het. Sy doen aktuariële werk by Ernst & Young. Die ander is Karl, tans 'n meestersstudent in regte, wat my menigte kere aangemoedig het om die reis daarheen te onderneem. Ons het op Stellenbosch ontmoet, en het 'n vriendskap gevorm deur ons gesamentlike belanstelling in joernalistiek en werk by die studentekoerant. Kultuur is een van ons gereelde gesprekspunte - waar pas ons by die samelewing in? Diegene wat al Rian Malan se "My Traitor's Heart" gelees het sal dit miskien veelseggend vind dat ons hom beide bewonder vir daardie skryfwerk en dit baie bespreek. Karl is reeds sedert middel 2016 daar anderkant, so dit sou interessant wees om te hoor hoe hy sy Europese ervaring tot dusver opsom. Hy het ook aangebied dat ek by hom kan bly, wat 'n aansienlike bydra gemaak het in my besluit om 'n drie-week-lange besoek af te lê.

Hier het ek dus twee kenisse wat op verskillende plekke in die Nederlandse samelewing geïntegreer het, maar wat 'n agtergrond met my deel - 'n uitstekende geleentheid om antwoorde te kry op 'n paar identiteitsvraagstukke waaroor ek al lank wonder, naamlik:

  1. Hoe vergelyk die Nederlandse leefstyl met dit wat ek al in Suid-Afrika ervaar het?
  2. Wat is die omvang van my kulturele verbintenis met die Nederlanders?
  3. Is immigrasie na (of minstens tydelike werk in) Nederland/Europa iets wat ek ernstig moet oorweeg?

Om die redes op te som:

  1. Ek wou graag 'n Westerse, Europese land besoek en eerstehands 'n eerstewêreld-leefstyl ervaar.
  2. Dit is die land waar my voorgeslagte en die taal wat ek praat vandaan kom.
  3. Ek ken twee vriende daar, waarvan een my verblyf aangebied het.
  4. Die land is klein en is om dit met 'n fiets te verken klink lekker.

My reis na Nederland was daarom minstens gedeeltelik 'n kulturele- en identiteitsverkenningstog.

Have a comment? Email me at jaco@jacoduplessis.co.za.