Jaco du Plessis

'n Kennis uit die Koue

sutherland

Ek het vandag die tyding ontvang dat oom Gerrit van Wyk van Sutherland oorlede is. In 2014 het ek hierdie stuk oor hom geskryf.

Palmietfontein, ’n plaas 40km noord van Sutherland, behoort aan die Van Wyk-familie.

Daar het ek Oom Gerrit van Wyk in 2011 ontmoet.

Ek onthou goed dat dit tydens Paasnaweek was, omdat my pa daardie Maandag oorlede is.

’n Week gelede het ek met my motorfiets na Sutherland gery. Nadat ek my sak en ryklere in die hotel neergesit het, het ek oor die pad gestap na Huis Jehenco, waar oom Gerrit en sy vrou, Elsa, nou bly.

Hy was effe uit die veld geslaan toe ek onverwags aan die deur klop, maar daar was ’n gemeenskaplike blydskap om mekaar te sien.

Ek bied aan om later terug te kom, want daar sit reeds ’n ander tannie.

Hy dring daarop aan dat ek sit, want hulle “praat net gou klaar”.

Die gesprek handel oor die ou tannie op die hoek wat geval het en ’n heupvervanging moes kry. Alhoewel sy oud was, het sy nog baie aktief gewerk en rondbeweeg, vertel Oom Gerrit.

“Ja nee, sy het nooit in haar lewe skilpadvleis geëet nie.”

Oom Gerrit is ’n storieboek, geskryf in die mees kleurvolle taal. En as hy uit sy eie boek voorlees, hoor jy dit in sy growwe stem wat jou laat wonder waarom hy nie op die radio is nie.

(Oom Gerrit het al ’n paar van sy stories neergepen, in ’n boek getiteld Kronieke uit die Koue. Voor hierdie besoek aan Sutherland het ek dit vir die tweede maal gelees.)

Die tannie staan op om iemand by die biblioteek oorkant die pad te gaan soek. Meeste dinge in Sutherland is “oorkant die pad”.

Tannie Elsa sit vir ons koffie en koekies neer. Melk word in poeiervorm aangebied. Op Palmietfontein was daar nooit elektrisiteit nie, en dit het maar gewoonte geraak om verromer in die koffie te drink.

Die Van Wyks, skaapboere, het nog altyd hard gewerk en eenvoudig geleef – Palmietfontein het byvoorbeeld al die jare ’n longdrop langs die huis gehad.

In Kronieke uit die Koue skryf Oom Gerrit oor die swak landbougeleenthede en tekort aan aantreklikhede van die gebied:

“Ou Koos Vlok het gesê as jy in ons wêreld wil oorleef, is daar drie dinge reëls: jy moet nie die Landbouweekblad lees nie, jy moet nie verder as Matjiesfontein gaan nie, en jy moet bereid wees om soos ’n hotnot te leef.”

Ek onthou nog my ontsteltenis toe ek gehoor het Oom Gerrit trek van Palmietfontein na die dorp. Ek het besef dat ek nooit weer saam met hom tot nanag om die Aga-stoof sou sit en na sy komiese vertellings luister nie.

Ander as sy pa, sê hy, het hy uit vrye wil ouetehuis toe getrek.

“Toe my pa al ouer was, vra ek eendag of hy nie oorweeg om ouetehuis toe te gaan nie. Hy het dit duidelik gemaak dat hy nie súlke blyplek nodig het nie.

“‘Maar,’ het hy bygevoeg, ‘as jy en Elsa voel julle wil soontoe trek, sal ek julle enige tyd daarheen wegbring.’”

Vir twee ure daardie middag het ons oor niks belangrik gepraat nie – ek het meestal probeer om ’n storievertelling te ontlok deur allerhande vrae te vra.

Voor ek weg is, het ek weer gaan groet. Ten spyte van my haas het hy my laat sit om eers twee pannekoeke te eet wat hy self vir my gemaak het.

Ek het Oom Gerrit gevra of dit nie vir hom sleg is om in die ouetehuis te bly nie.

Hy sê ouderdom, gesondheidsprobleme en slegte paaie het hom laat besef dis beter om maar op die dorp te kom bly.

Tydens my besoeke is ’n pers lappie om sy nek gedraai. Later verduidelik hy – die nek is seer. Die dokter sê sy werwels se kussinkies is uitgeslyt.

Maar hy is positief.

“Wat sal ons nou daar eenkant sit? Ek is eerder hier waar ek nog vir iemand iets kan beteken.”

Have a comment? Email me at jaco@jacoduplessis.co.za.