Jaco du Plessis

Nederland 2017 - Deel 2

nederland reis amsterdam

Op Dubai is ek ingelig dat die laaste been van my vlug in die besigheidsklas van 'n A380 sou geskied. 'n Pragtige Engelse roos genaamd Emily het vriendelik gedien as my lugwaardin.

Ek het hierdie twee insidente as positief interpreteer. Laasgenoemde was 'n bewustelike besluit.

(Indien jy die vorige paragraaf nie verstaan nie, weet net dat my vorige ervaring met 'n blom van dieselfde naam nie positief geëindig het nie.)

Karl ontvang my op Schipol-lughawe met 'n heliumballon: "Welkom Thuis". Dit verskaf ons beide genot.

Ons neem 'n trein na die middedorp. Dis laatmiddag. Buite is dit oortrokke en alles is grys. "Maar waar is die bome?" vra ek verdwaas aan 'n verbaasde Karl. Ek het iets meer kleurvol verwag.

Later het ek besef dat ek die slegste moontlike eerste indruk van Amsterdam as milieu gekry het. Ons was in die senter van die toeriste-area, op 'n winterweer-dag.

Vir die volgende drie weke was dit feitlik elke dag matige somersweer. En die bome wat ek gesoek het is volop soos jy na die buitewyke van die stad beweeg.

Dis eintlik snaaks om te dink dat ek drie weke later Amsterdam sou beskryf as die mooiste stedelike gebied wat al beleef het. Die plek het 'n groot indruk op my gelaat. Diegene wat my ken sal weet as hou niks van "die stad" nie. En alle ander stede walg my steeds. Maar Amsterdam is bekorend.

Die redes vir hiervoor sal ek in 'n volgende inskrywing deurgee.

In elk geval, ons het 'n bier gaan drink en toe, met die hulp van 'n Griekse buurvrou, 'n matras in Karl se flat met 'n haardroër opgeblaas. Justin Bieber het bo-op my gelê in die vorm van 'n duvet-oortreksel. Die woonstel is op die tiende vloer, en bied 'n uitstekende uitsig in die rigting van stad.

So het my sogenaamde "honeymoon period" van sowat twee weke begin.

Welkom Thuis

Have a comment? Email me at jaco@jacoduplessis.co.za.